Kobus!

Na 'n oordosis Brandewyn en Coke een aand in November van die jaar 2000 is Kobus! gebore uit die dualistiese waan van Naakte Soogdiere (met horings) en Stemme wat dinge Breek (kwaadwilliglik).

Maar hoe nou? Van waar gehasie? Who ordered the Veal Cutlet? Die klanke wat ons hoor is soet en vreedsaam. Die komposisies is vreugdevol dog donker. Die lirieke is briljant en die musiek is uitstekend. Ons klap ons hande en dan sny ons ons polse. Ons jubel en dan huil ons. Is dit moontlik? Ja, dit is. Hulle is tog Afrikaners en dit was tyd om hulle in hul moedertaal te begin uitdruk. Is dit moontlik?! Springbok Nude Girls en Voice of Destruction se 'top men' saam in 'n band? Ja dit is. Want hierdie band skryf hulle naam met 'n uitroepteken! Want dit is Kobus!, die beste Afrikaanse band in die heelal!!

Die Beste Afrikaanse Band In Die Heelal kom seen binnekort Gomorra en sy satellietstede met hul spesifieke aanslag op die eens uitgeNootvirNoot-de konsep van Afrikaanse musiek. Sou Carike Keuzenkamp uit die dode opstaan met 'n erge geval van swart onder haar vingernaels, 'n wenkbrou wat lig soos 'n raakgetrapte swart mamba op die grondpad tussen Jankempdorp en nerens en 'n woordeskat wat nou die woord 'main' insluit, sou sy Francois Breytenbach Blom gewees het (en dit geniet het).

En aan sy/haar regterkant staan kitaarspeler Theo Crous, die fris man in die stywe swart hemp, wat enige oomblik nou gaan uitbars in 'n geheadbangery wat enige orreliste tot nuwe gesange sou dryf. Deesdae word die Kobus!, line-up versterk deur Rob Nel op baskitaar en Paul Blom op dromme, so beide ou gunstelinge van hul debuut CD en die nuwe een, 100% Skuldgevoelvry, het nou die nodige ritmiese polsslag om enige teepartytjie in 'n losgemaal naby die doellyn te laat ontaard.

Ja, die musiek is hard; ja, hulle lyk goed in Levi's©; ja, die opblaaspop maak soms nog 'n verskyning en ja, dis steeds moeilik om uit te pluis wanneer hulle skerts en wanneer hulle die dolk uithaal om weer in te steek. Dis rock en goth en pop en plesier. Soms met 'n grom, soms met 'n grynslag, soms met bloed, soms met bier. Alles goed? Alles goed.

Discography
100% Skuldgevoelvry · 2004
Kobus! · 2002